Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 21

SATERDAG 14 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 7:17-26

Оглавление

PASOP VIR DIE VALSTRIKKE

Jy moet dit verafsku en as afskuwelik beskou; dit moet vernietig word (7:26).

GESELSVRAAG: Watter valstrikke kan ons gesin bedreig?

“Ons moet gereeld patrollies deur die park stuur om die valstrikke van draad te verwyder wat onwettige stropers daar stel. Dikwels is ons te laat om van die diere te red,” vertel ’n natuurbewaarder. Die gevaar van ’n valstrik is dat dit nie vir die prooi gevaarlik lyk nie. Tog is dit dodelik.

Moses dra die Here se waarskuwing aan die volk oor. Wanneer hulle die beloofde land binnegaan, sal valstrikke vir hulle wag. Aan die een kant vrees vir die vyande (vgl. v. 21), en aan die ander kant die versoeking van die afgode wat met silwer en goud versier is (vgl. v. 25). Moenie met sonde speel nie. Dis dodelik.

Vandag wag daar ook baie valstrikke op elkeen van ons. Dit kan ’n aanslag op ons eerlikheid wees, deur geldgierigheid. Dit kan vrees vir mense se dreigemente wees. Dit kan daardie “onskuldige” flirtasie wees met iemand met wie jy nie getroud is nie. Dit kan daardie gesellige drinkpartytjie wees en die “een vir die pad”, wat dikwels die oorsaak van noodlottige padongelukke is. “Hoe kan jy teen dwelms praat as jy dit self nie eers een maal ervaar het nie?” het al tot menige jong mens se val gelei. Dan is daar nog die dodelike versoeking om van ander mense te skinder.

GEBED: Here, maak my oë oop vir die valstrikke van elke dag.

Lees vanaand in Deuteronomium 8:1-9 hoe die Here ons deur dissipline sterker maak.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх