Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 13

VRYDAG 6 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 3:12-20

Оглавление

HELP MEKAAR

Julle moet saam met julle volksgenote trek totdat die Here ook aan hulle, soos aan julle, ’n veilige woonplek gegee het … (3:20).

GESELSVRAAG: Watter mense wat ons ken, het hulp nodig?

“Elkeen vir homself” is iets wat in vandag se wêreld ál meer geld. Hierdie selfsugtige gesindheid is presies die teenoorgestelde van wat die Here van sy kinders verwag. Ons is daar om mekaar te help. So kan ons vir mekaar tot seën wees.

Moses vertel hoe die twee en ’n halwe stamme hul grond oorkant die Jordaan gekry het. Dit het hulle goed gepas omdat hulle kleinveeboere was en die omgewing baie geskik daarvoor was. Maar omdat die ander stamme hulle gehelp het om dié eiendom te bekom, moes hulle op hul beurt die stamme help om ook elkeen ’n woonplek te kry. Dit was ’n beleid van mekaar help, waarvan ons in ons eie geskiedenis ook mooi voorbeelde het.

Vandag is daar verskeie gebiede waar die boere moeite doen om opkomende boere in hul omgewing by te staan en raad te gee. Soms leen hulle selfs plaasgereedskap aan mekaar waar nodig. Die Sotho-spreekwoord sê mos: “’n Mens is ’n mens deur mense.” As daar ’n veldbrand is, spring almal in om te help. En ander boere help weer met voer waar nodig. Ons moet dus waar ons woon, ook kyk waar daar mense is wat hulp nodig het.

GEBED: Here, wys my waar U my hierdie week wil gebruik om ander mense in hul nood by te staan.

Lees vanaand in Deuteronomium 3:21-29 hoe die Here soms selfs vir geloofshelde nee sê.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх