Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 17

DINSDAG 10 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 4:41-5:5

Оглавление

BELANGRIKE VOORSKRIFTE

Julle moet dit leer, dit gehoorsaam en daarvolgens lewe (5:1).

GESELSVRAAG: Watter goeie gewoontes het jy by jou ouers geleer?

“Moses is seker die enigste mens wat al Tien Gebooie op een slag gebreek het,” skerts ’n vriend. Hy verwys na hoe Moses die twee kliptafels met die wet daarop uit woede flenters gegooi het toe hy van die berg Sinai afgeklim het, net om te vind dat die volk reeds besig was om die teenoorgestelde te doen (vgl. Eks 32:19).

Moses herinner die volk daaraan dat die verbond nie net met hul oorlede voorouers gesluit is nie, maar dat dit ook vir hulle geld (vgl. 5:3). Dit moet deur die eeue die gids wees om hulle te lei hoe om as God se volk te leef. Dit sou die onderskeidingsteken tussen hulle en die ander volke wees. Toe Moses die tweede keer met twee swaar kliptafels die berg uitgeklim het, het hy hulle met sy terugkoms in die ark in die tabernakel gaan bêre sodat hulle altyd beskikbaar sou wees om die volk te leer.

Ons is soms so bewus van God se genade dat ons die Tien Gebooie as die Tien Voorstelle of Wenke beskou. Ons neem dit nie meer ernstig op nie. Die Here sê ons móét daarvolgens leef. Dit is die teken van ons dankbaarheid omdat Jesus ons skuld op Hom geneem het. Ons etiek moet daarvolgens wees. God, wat ons gemaak het, gee hierdie gebooie aan ons sodat ons veilig en gelukkig kan leef.

GEBED: Here, baie dankie dat U ons nie in die duister gelaat het oor hoe ons moet leef nie. Help ons om gehoorsaam te wees.

Lees vanaand in Deuteronomium 5:6-15 hoe ons voor God moet leef as ons vir Hom lief is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх