Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 18

WOENSDAG 11 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 5:16-22

Оглавление

EER JOU OUERS

Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy ’n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee (5:16).

GESELSVRAAG: Hoe eer ’n mens jou ouers?

“Verskeie mense gebruik sulke vloekwoorde, maar ons doen dit nie, want ons behoort aan die Here,” het ’n oupa aan sy kleinseun verduidelik. Dit is ’n belangrike les vir ’n kind om te leer, want die groepsdruk is so groot om ook maar soos die ander kinders te praat en te doen. Dit is soms moeilik om anders te wees. Maar ons andersheid is juis ’n getuienis vir die ongelowiges.

Dit is nie toevallig as ’n mens in ’n Christengesin gebore word nie. Die Here wil ons daardeur vorm en beveilig. Maar daar rus ook ’n groot verantwoordelikheid op ons wat ouers is. Ons moet so leef dat ons kinders ons kan respekteer. Ons voorbeeld sal maak dat ons kinders veilig is en langer leef (vgl. Ef 6:3). En al is daardie lewe nie noodwendig langer op aarde nie, loop dit in elk geval op die ewige lewe uit.

Dit gebeur ongelukkig dat gelowige ouers se kinders hulle in die skande steek. Kinders moet dus van kleins af leer om hul ouers te respekteer en te gehoorsaam. Daar word vertel dat toe ds Andrew Murray as moderator van die sinode gekies is, hy elke keer uit eerbied opgestaan het wanneer sy pa gepraat het.

GEBED: Dankie vir die ouers wat U aan ons gegee het, Vader. Help ons om hulle te eer, te gehoorsaam en te versorg.

Lees vanaand in Deuteronomium 5:23-33 hoekom dit so belangrik is om die Tien Gebooie te gehoorsaam.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх