Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 12

DONDERDAG 5 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 2:24-37

Оглавление

GOD BLY IN BEHEER

Die Here het hom koppig gemaak om hom in jou mag oor te gee. Hy is nou nog in jou mag (2:30).

GESELSVRAAG: Wie maak die wêreld vir jou moeilik?

“Ons het baie teenstand van een van die plaaslike leiers gekry,” vertel ’n sendeling. “Toe het die Here my gewys hoe ek hom moet benader. Hy het nie alleen vir ons toestemming gegee om voort te gaan nie, maar hy was uiteindelik die een wat die werk die meeste bevorder het.” Vir die Here is alles moontlik.

Moses herinner die volk daaraan hoe die Here vir hulle voorsien het deur die aggressiewe koning Sihon in hul hande oor te gee. So het Israel grond oorkant die Jordaanrivier bekom wat hulle eeue lank bewoon en benut het. Maar Israel het besef dat alles wat gebeur het, nie toevallig was nie. Die Here was in beheer. Dit was sy manier om vir hulle te voorsien.

Ons weet nie watter uitdagings hierdie jaar op ons wag nie. As ons die Here nie geken het nie, sou ons maklik moedeloos kon word. Maar ons Vader is steeds in beheer. Ons kan Hom vertrou. Ons moet net seker maak dat ons sy leiding reg verstaan en gehoorsaam. Hy bou ons geloof deur die uitdagings en probleme wat ons ervaar. So kan ons Hom ál beter leer ken. Dit is juis in tye van teenstand dat ons leer Wie eintlik in beheer is. Wees bloot gewillig om by die Here te leer.

GEBED: Hemelvader, ons weet nie wat vanjaar vir ons voorlê nie, maar U weet. Lei ons deur elke krisis.

Lees vanaand in Deuteronomium 3:1-11 hoe die Here soms sukses aan sy mense gee.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх