Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 9

MAANDAG 2 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 1:1-8

Оглавление

OP PAD MET GOD

Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit (1:8).

GESELSVRAAG: Waarheen is ons vanjaar met God op pad?

“Vir die eerste keer sien ek daarna uit om terug te gaan werk toe,” vertel ’n ingenieur wat lank in die staatsdiens was en tans as raadgewende ingenieur praktiseer. Hy het ’n toekoms gesien wat nie maklik deur korrupte staatsamptenare verongeluk kon word nie. Nou kan hy self beplan en ’n sukses van sy werk maak.

Moses het die volk bymekaargeroep om die deel van die wet te herhaal wat gewone gelowiges raak. Aangesien hulle dit nie op skrif gehad het nie, moes hulle elke jaar kom luister na die voorlees van hierdie boek (vgl. 31:1-13). Ons moet dus verwag dat die Here vanjaar ook met ons deur hierdie boek wil praat. Die toekoms is in die Here se hande, Hy is in beheer. Ons is dus veilig solank ons mooi luister en gehoorsaam is.

Ons is ook op pad na die beloofde land. Ons weet tog dat dit nie in hierdie wêreld is nie. Dit wag in die ewigheid. Tog is ons ook elke dag met die Here op pad. Alles wat ons vandag dink, sê en doen, sal eendag na ons toe terugkom (vgl. Op 20:12). Die Here laat ons nie alleen nie. Hy belowe om elke dag by ons te wees (vgl. Matt 28:20). Daarom is dit belangrik om elke dag van hierdie nuwe jaar tyd te maak om na Hom te luister.

GEBED: Here, dankie dat U vir ons ’n ewige blyplek voorberei. Lei ons vanjaar elke dag op die regte pad.

Lees vanaand in Deuteronomium 1:9-18 watter soort leiers ons nodig het en hoe hulle moet optree.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх