Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 14

SATERDAG 7 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 4:1-10

Оглавление

ELKE KEER

Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? (4:7).

GESELSVRAAG: Wanneer het ons die Here se hulp nodig?

“Ek glo dat alle godsdienste maar net verskillende paaie is om dieselfde berg te klim,” vertel ’n jong kelner my in Sri Lanka. Maar is daar dan geen waarheid nie? Almal kan mos nie reg wees nie? Hoe weet ons watter een van die vele godsdienste op aarde die waarheid beet het? Of het die ateïste die waarheid ontdek?

Moses het nie getwyfel nie. Hy het die Here, die God van Israel van aangesig tot aangesig ontmoet. Hy was bewus van sy eie swakheid, maar het die Here dekades lank met sy hele hart gevolg en die een wonderwerk na die ander sien gebeur. Hy het die krag van gebed leer ken. Vir die Here is niks onmoontlik nie. Hy kan selfs ’n grootpad deur die see maak as dit nodig is.

Ons almal is vanjaar op ’n onbekende pad. Maar ons is nie alleen nie. Ons het medegelowiges om ons te ondersteun en vir wie ons moet ondersteun. Maar boweal het ons die lewende drie-enige God. Hy het Hom deur baie eeue geopenbaar en het nog nie verander nie. Hy is steeds die Hoorder van gebed. Ons kan dus verwag dat ons ou vyand, Satan, alles sal doen om te keer dat ons bid. Solank ons op eie houtjie iets probeer doen, is hy veilig. Maar as ons bid, werk God, en as God werk, wie kan dit keer?

GEBED: Here, leer my hierdie jaar só bid dat dinge begin verander. Verlos my dus van my gemaksug.

Lees vanaand in Deuteronomium 4:11-24 waarom ons nie op iets of iemand anders as die Here moet vertrou nie.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх