Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 22

SONDAG 15 JANUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:33-40

Оглавление

’N NUTTELOSE LEWE?

Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys (119:37).

GESELSVRAAG: Wat gee sin aan ’n mens se lewe?

“Ek het niks meer om voor te leef nie,” is die slegte gedagtes wat mense soms aan selfdood laat dink. In sy boek Die doelgerigte lewe help Rick Warren ons verstaan dat daar vyf baie goeie redes is om te leef: 1. Om God te aanbid; 2. Gemeenskap van gelowiges; 3. Geestelike groei; 4. Diens aan ander; 5. Getuienis teenoor ander. Is jou werk op aarde al klaar? “Solank jy nog asemhaal, is jou werk nog nie klaar nie,” lees ek nou die dag.

Hierdie psalm wil ons daaraan herinner dat God ’n doel het met elkeen van ons. Die psalmdigter se grootste vrees is dat hy ’n nuttelose lewe sal lei. Dit is iemand wat niks vir iemand anders beteken nie. Daarom besef hy dat die Bybel vir hom die gids moet wees wat hom op die regte pad sal lei.

Kom ons gaan vandag kerk toe met die verwagting dat ons Here vir ons opdragte vir hierdie week wil gee. Hy wil ons elkeen gebruik om sy wil op aarde uit te voer. Ons is sy hande en voete. Sondag is dus nie net ’n rusdag nie. Dit is ook ’n luisterdag. Ons kan die TV en die radio afskakel en begin luister na wat God vir ons elkeen wil sê. ’n Woestynervaring – of ’n kragonderbreking! – is soms ’n baie goeie ding.

GEBED: Here God, dankie dat U ook met my ’n doel het. Help my om my roeping voluit uit te leef.

Lees vanaand in Psalm 119:41-48 hoe die Here se Woord ons elke dag wil lei. Kyk mooi waar die versoekings wag.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх