Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 44

SONDAG 5 FEBRUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:81-88

Оглавление

CHRISTENVERVOLGING

Op al u gebooie kan ek my verlaat. Help my, want dié mense vervolg my sonder rede (119:86).

GESELSVRAAG: Wanneer is dit moeilik om ’n Christen te wees?

“Op ’n dag het hulle die Arabiese letter ‘N’ teen ons huis geverf. Dit staan vir Nasarener – die naam vir Christen in die Arabiese wêreld,” vertel ’n gelowige Arabier. “Toe het gewapende manne vir ons kom sê hulle gee ons drie keuses: Ons moet ons tot die Islam bekeer, of elke jaar R16 000 elk aan hulle betaal vir beskerming, of hulle maak ons almal dood. Wat kies ons?” Die uiteinde was dat duisende Christene hul huise moes verlaat en uit Mosul (die Bybelse Nineve) moes vlug. Vir die eerste keer in 1 600 jaar word daar geen Christenbyeenkomste meer gehou nie.

Deur die eeue word gelowiges vervolg. So was dit ook in die tyd toe hierdie psalm geskryf is. Die digter het ook ervaar dat hy vervolg word en onregverdig van dinge beskuldig word wat nie waar is nie. Maar wat vir hom die belangrikste is, is dat sy verhouding met die Here nie moet skade kry nie. Daarom hierdie lang lied oor God se Woord.

Ons kla maklik, maar ons het geen idee hoe swaar Christene in ander lande kry nie. Die feit dat jy vandag hierdie stukkie lees, wys dat jy ook die begeerte het om die Here beter te leer ken. Hy wil jou vorm en gebruik om ’n verskil te maak.

GEBED: Here, dankie vir u Woord wat ons so duidelik lei om te weet wat ons moet doen of vermy.

Lees vanaand in Psalm 119:89-96 hoe die Here se Woord tot in ewigheid betroubaar is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх