Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 63

VRYDAG 24 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 33:20-29

Оглавление

KONINGSKINDERS

Dit gaan goed met jou, Israel! Wie is soos jy?

Jy is ’n volk wat deur die Here verlos is! (33:29).

GESELSVRAAG: Wil jy graag ’n prins of prinses wees? Hoekom?

“Ek wil graag ’n prinses wees by my verjaardagpartytjie,” sê my een kleindogter. Watter dogtertjie het nog nie daardie droom gehad nie? Die prinses is altyd baie mooi, met pragtige klere, en daar is ’n prins iewers wat op haar verlief gaan raak. In die regte wêreld is dinge ’n bietjie anders, nie waar nie?

As jy ’n kind van God is, is daardie droom nie ver van die waarheid nie. God is die Koning. Sy kinders is almal prinse en prinsesse. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh 1:12). “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het” (Ef 1:5-6). Wat ’n voorreg om ’n kind van die grootste Koning te wees.

Moses sluit sy laaste toespraak af deur te vertel hoe wonderlik die God van Israel is en hoe wonderlik die volk van God. Die groot boodskap van Deuteronomium is sekerlik dat dit moontlik is om ’n verbondskind van God te wees. Jy kan weet dat jy aan Hom behoort en dat jy verlos is.

GEBED: Hemelvader, dankie dat U my aangeneem het as u kind in Jesus Christus en dat U my elke dag daarvolgens wil verander.

Lees vanaand in Deuteronomium 34:1-12 hoe Moses sterf en waar hy sy gesag vandaan gekry het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх