Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 46

DINSDAG 7 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 24:1-9

Оглавление

EGSKEIDING

Sy kan dan uit sy huis uit gaan en met ’n ander man trou (24:2).

GESELSVRAAG: Wie kry seer as ’n egpaar skei?

“Egskeiding raak nie net ’n man en sy vrou nie. Dit raak ook hul familie en veral die kinders, want hulle word in twee geskeur. Hulle is lief vir pappa én mamma. Daarom sal hulle alles probeer om die twee weer bymekaar te bring,” vertel ’n berader. Elkeen wat al ’n egskeiding ervaar het, sal weet watter seer dit veroorsaak.

Moses het egskeiding toegelaat, maar dit moes dan amptelik geskied. Hy verduidelik nie wat hy met “iets onbetaamliks” bedoel nie. Dit was nie egbreuk nie, want dit het die doodstraf meegebring. Die Skrifgeleerdes in Jesus se tyd was in twee verdeel. Die skool van Shammai het geglo egskeiding kon net ná egbreuk geskied. Hillel se volgelinge het geglo ’n man kon sy vrou skei as sy te hard praat, sy kos laat aanbrand, met deurmekaar hare in die openbaar verskyn of met ontblote arms loop. Daarom is Jesus gevra of iemand sommer oor enige rede van sy vrou kan skei (vgl. Matt 19:3-9).

God laat egskeiding ter wille van die vrede toe, maar Hy keur dit nie goed nie. Hy haat dit (vgl. Mal 2:16). Tog het Hy die geskeides lief. Dit is nie ’n onvergeeflike sonde nie. Die huwelik is ’n baie ernstige saak, want dit is bedoel om ’n beeld van God se liefde vir sy kerk te wees (vgl. Ef 5:32).

GEBED: Here, ons bid vandag vir elkeen in ’n ongelukkige huwelik. Bewaar ons en help ons om waarlik een te word.

Lees vanaand in Deuteronomium 24:10-22 hoe God vir armes, vreemdelinge, wese en weduwees voorsiening maak.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх