Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 55

DONDERDAG 16 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 30:1-10

Оглавление

GOD VERANDER DINGE

Die Here jou God sal jou lewe en die lewe van jou nageslag aan Hom wy, sodat jy Hom sal liefhê met hart en siel (30:6).

GESELSVRAAG: Hoe het jy tot bekering gekom?

“Van die lekkerste dinge in my bediening was om te hoor hoe die Here mense tot bekering gebring het,” vertel ’n leraar. Die Here werk nie dieselfde met ons almal nie. Elkeen het ’n unieke storie. Tog moet ons dit met mekaar deel om mekaar aan te moedig.

Moses sê die beproewings sal sy mense uiteindelik tot bekering bring. Hulle sal anders begin dink (vgl. v. 1) en na die Here terugkeer (vgl. v. 2). Dít lei tot gehoorsaamheid (vgl. v. 2), en die Here verander omstandighede (vgl. v. 3). Die volk sal weer kan terugkeer na die land van hul voorvaders (vgl. v. 4-5). Die Here sal mense se geestelike lewe verdiep (vgl. v. 6). Dít lei tot ’n gelukkige lewe (vgl. v. 9-10). Dit geld nie net vir jou nie, maar ook vir jou kinders en kleinkinders (vgl. v. 6).

Nie een van ons is goed genoeg om in die hemel te kom nie. Daarom het die Here Jesus gekom om as volmaakte mens ons skuld en straf op Hom te neem. As ons antwoord op sy roepstem, kom woon Hy in ons deur sy Gees en verander ons lewe. Hy stel boonop nie net in jou belang nie, maar ook in jou nageslag. Jy kan dus met vrymoedigheid vir jou kinders en kleinkinders bid. Die Here het almal so lief dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het.

GEBED: Here, dankie vir u onverdiende genade. Ons wil u hart bly maak deur te antwoord op u roepstem.

Lees vanaand in Deuteronomium 30:11-20 die kragtige oproep tot bekering. Is daar dalk nog iets wat jy moet doen?

Uit die Beek 2017

Подняться наверх