Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 61

WOENSDAG 22 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 32:43-52

Оглавление

AMPER

Jy sal die land wat Ek aan die Israeliete sal gee, regoor jou sien, maar jy sal daar nie binnegaan nie (32:52).

GESELSVRAAG: Watter droom van jou is nog nie verwesenlik nie?

“As jy amper betyds is om jou vliegtuig te haal, bly jy in die lughawegebou agter. As jy ’n boksgeveg amper wen, dan verloor jy,” verduidelik ons onderwyser. “Amper is nog nie stamper nie,” is ’n bekende gesegde. So stel ons vir ons doelwitte wat ons dalk nog nie bereik het nie. Wat kan ons doen om dit te verwesenlik?

Ons kom nou aan die einde van Moses se lewe. Hy het wonderlike ervarings met God gehad. Hy het baie wonderwerke gesien. Maar sy eintlike doelwit, om die volk in die beloofde land in te lei, kon hy nie bereik nie. Dit was nie omdat God nie in staat was om dit te doen nie. Dit het uiteindelik wel gebeur. Dit was Moses nie beskore nie omdat hy en sy broer ongehoorsaam was. Hulle het die rots geslaan in plaas van daarmee te praat (vgl. Num 20:12). Die enkele keer dat hy die eer vir homself wou inoes en nie stiptelik gehoorsaam was nie, het hom die beloofde land gekos.

Jy voel miskien vandag ook teleurgesteld en moedeloos oor iets wat nie uitgewerk het nie. Dit kan wees omdat dit ’n verkeerde doelwit was. Tog kan dit dalk eers later vervul word. Moses het eeue later wel in die beloofde land ingekom (vgl. Luk 9:30).

GEBED: Here, dankie dat ek ook my drome aan U kan oorgee. Ek is tot u beskikking. Gebruik my net soos U wil.

Lees vanaand in Deuteronomium 33:1-7 hoe Moses vir oulaas ’n seën oor elke stam uitspreek.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх