Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 57

SATERDAG 18 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 31:19-30

Оглавление

SWANESANG

Terwyl ek nog hier by julle in die lewe is, is julle al opstandig teen die Here, hoeveel te meer nog as ek eers dood is! (31:27).

GESELSVRAAG: Wat maak jou moedeloos?

“Hoe wil jy eendag jou werk afsluit?” is iets om oor na te dink. Die meeste van ons verlang om op ’n hoogtepunt af te sluit. Jy wil trots wees op alles wat die Here deur jou gedoen het. Jy het daardie plaas of maatskappy opgebou tot ’n pragtige en winsgewende bedryf. Jy het diep spore getrap wat min mense jou kan nadoen. Wat moet eendag op jou grafsteen staan? Wat moet die mense by jou begrafnis oor jou sê?

Moses het aan die einde van sy lewe gekom. Hy was nou al 120 jaar oud. Die Here het groot dinge deur hom gedoen. Hy het die onmoontlike reggekry: om ’n slawevolkie te bevry en op te bou tot ’n gedugte leërmag. Hulle was nou op die punt om die beloofde land binne te gaan. Toe gee die Here hom die boodskap dat die volk gaan afdwaal en uiteindelik ballinge sal word. Alles wat hy opgebou het, sal afgebreek word. Maar uiteindelik sal die Messias kom om alles weer reg te maak.

Jesus het seker ook moedeloos gevoel toe al sy dissipels Hom in die steek gelaat het. Die mense wat Hy gehelp het, het hom verlaat. Sy beste vriend het ontken dat hy Hom ooit ontmoet het. Hoe voel Hy oor jou vandag? Dalk is daar iets wat jy moet regmaak.

GEBED: Here, vergewe my dat ek U ook gereeld in die skande steek. Ek wil terugkom na U toe. Dankie vir u groot genade.

Lees vanaand in Deuteronomium 32:1-10 die volkslied wat die volk moes herinner aan wat God vir hulle gedoen het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх