Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 49

VRYDAG 10 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 27:1-10

Оглавление

OORGANG

Moses en die leiers van Israel het die volk beveel: “Jy moet al die gebooie gehoorsaam wat ek jou vandag beveel” (27:1).

GESELSVRAAG: Hoe verander ons sinvol van leiers?

“Groot leiers omring hulle met goeie mense. Dan is die geskikte kandidate dadelik gereed wanneer die tyd kom om van leier te verwissel,” verduidelik ’n kommentator. In Afrika probeer die leiers alle moontlike kandidate vir leierskap uitwerk, want hulle word as ’n bedreiging gesien. Hulle omring hulleself dus met jabroers wat nie sal waag om self te dink nie. Die gevolg is dat die oorgang van leierskap meestal met geweld gepaardgaan.

Tot dusver het Moses al die praatwerk gedoen. Vanaf Deuteronomium 27 lees ons Moses se derde en laaste toespraak. Hy het reeds geweet dat hy nie self die beloofde land sou binnegaan nie. Daarom het hy die leiers van Israel ingespan om verantwoordelikheid vir die leiding oor te neem. Hulle sou die volk saam met Moses se opvolger verder moet lei. Die leiers van die volk moes verseker dat elke burger die wet goed verstaan en dit persoonlik aanvaar deur hardop “amen” daarop te sê (vgl. v. 15 e.v.).

Sou dit nie wonderlik wees as ons politieke leiers die volk ook op die pad van gehoorsaamheid aan God kan lei nie? Hulle moet die Here self ken en sy wil soek. Dan moet hulle sy leiding volg. Kom ons bid vandag spesiaal daarvoor.

GEBED: Here, ons bid vir al ons leiers. Help hulle om u Woord te ken en gewillig te wees om voluit vir U te leef.

Lees vanaand in Deuteronomium 27:11-26 die dramatiese aankondiging van die vloeke wat op ongehoorsaamheid volg.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх