Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 56

VRYDAG 17 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 31:1-8

Оглавление

GOD IS MET JOU

Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees.

Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie (31:8).

GESELSVRAAG: Watter uitdaging wag vandag vir jou?

“Wie gaan die volgende leier wees?” is die vraag waarmee elke organisasie die een of ander tyd worstel. Moet dit iemand van buite wees, wat niks van ons kultuur en geskiedenis weet nie, of moet dit iemand wees wat al jare in die organisasie dien en alles daarvan weet? Die Here het reeds ’n opvolger vir Moses voorberei in die persoon van Josua, wat heeltyd sy regterhand was. Nietemin was selfs Josua onseker of hy die verantwoordelikheid kan dra.

Moses praat nou met die hele volk oor die uitdagings wat op hulle wag. Die vyand lyk sterk en onoorwinlik. Maar die volk is nie alleen in die stryd nie. God is met hulle. Hy gaan vooruit om die pad te baan. Hulle is nie alleen nie. Hulle hoef nie bang te wees nie.

Ons almal het ook dié boodskap nodig. Net soos die Here by die volk Israel was, is Hy ook by elkeen van sy kinders. Hy gaan vandag ook vir jou vooruit, want Hy is nie aan tyd gebonde nie. Hy sal elke oomblik by jou wees. Ons hoef nie bang te wees nie. Al lyk die omstandighede vandag nie goed nie, belowe Hy dat alles ten goede sal meewerk (vgl. Rom 8:28).

GEBED: Sonder U kan ons vandag niks doen nie, Here. Dankie dat U vandag saam met ons sal wees en dat ons nie hoef bang te wees nie.

Lees vanaand in Deuteronomium 31:9-18 hoe die hele volk gereeld die wet moes hoor, en hoe Moses gereed moes maak om te sterf.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх