Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 45

MAANDAG 6 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 23:1-8

Оглавление

DISKRIMINASIE

Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie (23:3).

GESELSVRAAG: Wie is nie welkom in jul gemeente nie?

“Die kerk is nie ’n vergadering van volmaakte mense nie, maar ’n hospitaal vir verlore sondaars.” Jesus het juis gekom om mense te soek en te red wat verlore is (vgl. Luk 19:10). Toe Paulus die gemeente in Korinte beskryf, herinner hy hulle uit watter verlore omstandighede hulle almal gekom het (vgl. 1 Kor 6:9-11).

In Moses se tyd was die onreg wat die Ammoniete en Moabiete hulle aangedoen het, nog vars in hul geheue. Hulle was die afstammelinge van Lot se bloedskande met sy dogters en dus ver langs familie van Israel (vgl. Gen 19:38-38). Albei volke het die Israeliete sleg behandel tydens die reis van Egipte (vgl. Num 22-24). Daarom moes hulle nou gestraf word. Is daar dan geen hoop vir iemand uit daardie volke nie?

Die Bybel vertel ons verderaan die res van die verhaal. Een van Jesus se voormoeders, Rut, was ’n Moabiet. Miskien wil Hy ons daardeur leer dat daar hoop vir elke sondaar is. Hy het selfs vir ’n vrou wat op owerspel betrap is, hoop en ’n nuwe lewe gegee (vgl. Joh 8:11). Hy belowe om geen sondaar wat na Hom toe kom, te verwerp nie (vgl. Joh 6:37). Daar is dus hoop en vergifnis vir elkeen van ons. Dit maak nie saak wat jy gedoen het nie. Jesus het jou lief.

GEBED: Here, dankie dat U nie my verlede teen my hou nie, maar dat U vir my ’n nuwe toekoms gee.

Lees vanaand in Deuteronomium 23:9-25 watter praktiese reëlings die veiligheid van die volk moes verseker.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх