Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 58

SONDAG 19 FEBRUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:113-120

Оглавление

DIE GEVOLGE VAN ONTROUHEID

U verwerp almal wat van u voorskrifte afdwaal; met hulle ontrou mislei hulle hulleself (119:118).

GESELSVRAAG: Wanneer gee ’n mens toe aan versoekings?

“Ag, jy is tog nie een van daai nie?” swets ’n sakeman toe ’n Christensakeman hom aanspreek oor sy lasterlike taalgebruik. Tog het dit hom nie verhoed om voort te gaan om die Here en sy Naam te belaster nie. Die gevolg was dat die Christen sy sake met daardie firma beëindig het, al het hulle jare lank goeie diens gelewer. Hy het gevoel God se eer is op die spel.

Hierdie lang psalm herinner ons vandag daaraan met Wie ons te doen het. As jy God die rug toekeer, is dit nie net jou taalgebruik wat in die slag bly nie. Jy word ’n huigelaar (vgl. v. 113), onregverdig (vgl. v. 115), ’n afdwaler en iemand wat nie vertrou kan word nie (vgl. v. 118). Jy is goddeloos en soos waardelose skuim (vgl. v. 119). Iemand wat aan die Woord van God vashou, beweeg in die teenoorgestelde rigting. Daarom kies die digter om respek vir God te hê (vgl. v. 120).

Ons kom elke dag voor keuses te staan. Vandag kies ons ook of ons die dag saam met God wil deurbring, of in diens van die wêreld. Gaan ons die Here ’n kans gee om deur Bybelstudie, die erediens, aanbiddingsliedere en ander gelowiges met ons te praat? Of gaan ons die dag in die kring van die spotters en Godveragters deurbring?

GEBED: Here, ek het die grootste respek vir u Naam. Help my om vreesloos te wys aan Wie se kant ek is.

Lees vanaand in Psalm 119:121-128 hoe ons eerder moet kies om aan God gehoorsaam te wees.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх