Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 59

MAANDAG 20 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 32:11-18

Оглавление

VLIEG SOOS ’N AREND

Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra … (32:11).

GESELSVRAAG: Wat val jou op van ’n arend?

“Moses het 40 jaar lank in die woestyn skape opgepas en daarom kan ’n mens verstaan hoekom hy die visarend so goed leer ken het. Met ’n vlerkspan van tot 2,4 m is dit ’n indrukwekkende roofvoël,” verduidelik ’n voëlkenner.

In hierdie lang lied wat alle Israeliete moes leer sing, vertel Moses hoe ’n jong arend leer vlieg. Die nes word baie hoog in hoë bome of teen kranse gebou. Daar word die kleintjie ’n ruk lank goed versorg. Wanneer die tyd kom om te leer vlieg, sal sy ouers hom uit die nes uitskop. Hy sal angstig sy vlerke klap, maar net voordat hy hom te pletter val, sal die ouer onder hom induik en weer nes toe neem. Dit word herhaal totdat die kleintjie goed kan vlieg. Só maak die Here ook met sy mense. Dit lyk soms asof Hy teen ons is en al ons sekerhede van ons wegneem, maar dan is Hy altyd daar om ons weer te vang. So wil Hy ons geloof versterk.

Het jy al gebid vir ’n sterker geloof? Daar is net een manier om dit te ontwikkel: deur in omstandighede te kom waar jy geloof nodig het. Net soos jy wil moed opgee, sal God jou red en van sy almag verseker. So groei ons ook geestelik.

GEBED: Here, ek is soms so bang om dit uit die nes te waag. Dankie dat U altyd daar is om my te vang.

Lees vanaand in Deuteronomium 32:19-28 hoe die Here ons soms toelaat om die gevolge van ’n slegte keuse te dra.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх