Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 47

WOENSDAG 8 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 25:1-10

Оглавление

JOU ERFGROND IS BELANGRIK

Haar eerste seun moet die naam van die afgestorwe broer dra sodat sy naam nie uit Israel uitsterf nie (25:6).

GESELSVRAAG: Hoe word weduwees deesdae versorg?

“My man het nagelaat om sy versekering die drie laaste maande te betaal voordat hy skielik aan ’n hartaanval oorlede is,” vertel ’n weduwee. Die gevolg is dat hy sy gesin onversorg agtergelaat het, want die versekering het outomaties verval. Hulle het baie swaar gekry omdat daar nie genoeg voorsiening vir hulle gemaak is nie.

Vandag se gedeelte handel oor ’n sterfgeval waar twee voorwaardes geld: Die broers woon saam (omdat hulle die eiendom saam geërf het) en die weduwee het nie ’n seun wat sy pa se erfporsie kan erf nie. Dit gaan dus eintlik oor die erfenis. ’n Vreemde mag nie die beheer oor dié eiendom verkry deur met die weduwee te trou nie. As die oorlewende broer nie sy plig wil nakom om vir die weduwee te sorg nie, of omdat hy die eiendom net vir homself wil hê, moes die weduwee hom met haar eienaardige optrede in die skande steek (vgl. v. 9). Skande is ’n ernstige saak in die Midde-Ooste.

’n Groep Sadduseërs het probeer om Jesus vas te vra deur na hierdie gedeelte te verwys (vgl. Matt 22:23-33). Hy het egter van die geleentheid gebruik gemaak om hulle daarop te wys hoe verkeerd hul geloof is dat daar geen lewe ná die dood is nie. Ons elkeen laat ook ’n erfenis na. Na wie toe sal dit gaan? Is jou gesin versorg?

GEBED: Hemelvader, dankie dat U omgee vir die weduwees en die wese. Wys ons waar ons sulke mense kan help.

Lees vanaand in Deuteronomium 25:11-19 hoekom dit baie belangrik is dat ons daagliks regverdig optree.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх