Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 54

WOENSDAG 15 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 29:1-13

Оглавление

DIE VERBOND

Julle staan hier sodat julle deel kan kry aan die verbond van die Here julle God wat Hy vandag onder eed met julle sluit … (29:12).

GESELSVRAAG: Hoe verduidelik jy die verbond aan iemand anders?

“Hoekom moet ek altyd eerste gaan?” het Moses volgens ’n gewilde legende glo gesê toe hy op die kus van die Rooisee te staan gekom het. Leiers moet voorloop, anders lei hulle nie, hulle stoot. Deesdae is daar min leiers wat so lei. Soos iemand terg: “Volg my, ek is reg agter julle!” Dit geld veral wanneer betogings en opstande gereël word.

Hierdie gedeelte verskaf die lys mense volgens rangorde van belangrikheid (vgl. v. 10-11). Het dit jou ook getref dat vroue voorlaaste genoem word, net voor die slawe? Dit was ongelukkig die kultuur van daardie tyd. Tog was almal byeen vir ’n groot plegtigheid. Op daardie dag (drie maal word gesê “vandag”) sou hulle ’n plegtige verbond met God sluit om sy volk te wees. Dit is die vervulling van God se belofte aan hul voorouers (vgl. v. 13).

’n Verbond is ’n plegtige ooreenkoms met voorregte en verantwoordelikhede aan albei kante. In hierdie geval verklaar die volk onder eed dat hulle God se volk wil wees, en Hy antwoord dat Hy hul God sal wees. Dit gaan dus om ’n persoonlike verhouding met die lewende God. Toe die volk nie die verbond eerbiedig het nie, moes Jesus aarde toe kom om dit in hul plek te doen.

GEBED: Here Jesus, dankie dat U gewillig was om in my plek gehoorsaam te wees. Ek wil nou ook gehoorsaam wees.

Lees vanaand in Deuteronomium 29:14-29 hoekom die verbond so belangrik is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх