Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 51

SONDAG 12 FEBRUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:97-104

Оглавление

DIE WOORD GEE WYSHEID

U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by (119:98-99).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons ons kinders wysheid leer?

“Ek kan dit nie mooi verklaar nie, maar sedert ek begin het om die Woord van God te memoriseer soos ek in die Bybelkor-kursus geleer het, het my lewe begin verander. Ek was nie meer skaam om oor die Here te praat of in die openbaar te bid nie,” skryf ’n ouderling se vrou uit Natal. Die digter van ons psalm sou glimlag, want dit is presies wat hy ook ondervind het.

Hoe kan die gebooie van die Here altyd by ons wees? Moet ons met die Bybel onder die arm loop? Nee, dit is nie prakties nie en kan mense afskrik. Maar as ons die Woord memoriseer, is dit altyd by ons wanneer ons dit nodig het. Ek vind dat die tekse wat ek as jong seun geleer het, steeds dié is wat ek elke dag nodig het. (Ek haal hulle nog in die woorde van die 1953/1933-vertaling aan, want dié het ek destyds geleer.)

Hoe kan ons ons kinders wysheid leer? Is dit nie om hulle te help om elke dag, of minstens elke week, verse uit die Bybel te memoriseer nie? Dit is die beste wapen waarmee ons hulle die wêreld kan instuur. Al is ons nie meer daar om hulle te lei nie, is God se Woord steeds daar. Kyk na elke dag se kernvers.

GEBED: Here, baie dankie vir u kosbare Woord wat ons elke dag wil lei om die regte keuses te maak.

Lees vanaand in Psalm 119:105-112 hoe die Woord van God vir ons lig wil gee in die week wat voorlê.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх