Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 42

VRYDAG 3 FEBRUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 21:22-23

Оглавление

GOD SE OORDEEL

Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe, want wie opgehang word, is deur God vervloek (21:23).

GESELSVRAAG: Moet ons land die doodstraf terugbring? Verduidelik.

“Swede het ook nie die doodstraf nie, en tog vind daar feitlik geen moorde plaas nie,” vertel my Amerikaanse vriend. “Hoekom sê so baie Suid-Afrikaners die rede vir die uitermate hoë moordsyfer in die land is die gevolg van die afskaffing van die doodstraf?” Ek het nie ’n antwoord gehad nie, behalwe dat dit dalk iets met die verskillende kulture te doen het.

Die volgorde in vers 22 dui aan dat die ophang van die liggaam eers ná die doodstraf plaasgevind het, volgens verskeie kommentare. Die doodstraf is in Moses se tyd deur steniging voltrek, nie deur die misdadiger aan ’n galg op te hang nie. Die lyk is daarna aan ’n paal opgehang om as waarskuwing vir die ander mense te dien. Maar dit moes voor sononder afgehaal en begrawe word, anders word die land daardeur verontreinig.

Paulus verwys na hierdie gedeelte waar hy skryf: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ’n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is’ ” (Gal 3:13). Jesus het Homself uit liefde in ons plek laat ophang sodat ons daardeur gereinig kan word. Kom ons loof Hom daarvoor.

GEBED: Here Jesus, dankie dat U gewillig was om u liggaam aan ’n kruis te laat spyker om reiniging vir sondaars te verseker.

Lees vanaand in Deuteronomium 22:1-12 hoe verlore eiendom versorg moes word en sommige praktiese en rituele reëlings.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх