Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 36

SONDAG 29 JANUARIE 2017 Lees eers Psalm 119:65-72

Оглавление

VERANDERING

Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord (119:67).

GESELSVRAAG: Hoe weet ons wat reg en wat verkeerd is?

“Ek is dankbaar dat ek destyds gearresteer is en in die tronk beland het. As dit nie gebeur het nie, sou ek nooit die evangelie gehoor het nie. Dan het die ander bendes my dalk al vermoor,” vertel ’n gevangene wat die Here in die tronk gevind het. In die tronk het hy by die Bybelstudiekring ingeskakel en was in daardie stadium een van die voorgangers. Hy het verstommende Skrifkennis opgedoen. Selfs die bewaarders het respek vir hom gehad.

Hierdie lang lied wat ons elke Sondag saam oordink, wil ons daaraan herinner dat die Woord van God ons op die regte pad wil lei. Ons behoort dit te memoriseer, want as die versoekings kom, het ons selde ’n Bybel byderhand om ons te lei, en selfs dan weet ons nie waar die antwoord staan nie. Toe Jesus versoek is, het Hy die Skrif uit die kop aangehaal, en die versoeker moes vlug.

Ons weet nie watter versoekings hierdie week vir ons wag nie. Daarom behoort ons vandag saam met ander gelowiges die Woord te oordink sodat ons dit hierdie week kan toepas. Ons kan vanmiddag ook tyd maak om ’n Skrifdeel te memoriseer. Dit sal ons gebedslewe radikaal verander en ons help om die regte keuses te maak.

GEBED: Here, ons bid vir elkeen wat vandag die Woord moet bedien. Mag dit met krag wees om lewens om te keer.

Lees vanaand in Psalm 119:73-80 hoe die Woord ons in die alledaagse lewe kan lei.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх