Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 27

VRYDAG 20 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 11:13-21

Оглавление

SEËN VIR JOU GESIN

Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan (11:19).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons mekaar aan die Here se Woord herinner?

“Hoe kan ek my kinders toerus om die versoekings te weerstaan wat vir hulle in die buitewêreld wag?” is die vraag waarmee baie ouers deesdae worstel. Ons kinders kry selfs op laerskool te doen met drank, dwelms en voorhuwelikse seks. Ons het op daardie ouderdom nog met poppe en karretjies gespeel. Sommige ouers verkies tuisskoling sodat die kinders se geloof sterk gevestig kan word voordat hulle met die buitewêreld se versoekings te doen kry. Ander verkies openbare skole sodat die ouers hul kinders deur al die versoekings kan begelei.

Moses leer die volk dat hul kinders van kleins af moet leer om die Here te dien, anders lyk hul toekoms donker. Daar was nog nie staatskole nie. Alles moes in die huisgesin geskied. Kinders het geleer deur te sien en te hoor wat hul ouers doen. Daarom was godsdiens deel van die alledaagse lewe, nie net vir een dag in die week nie.

’n Ruk gelede was ’n Amerikaanse gesin van ses by ons op besoek. Hulle was op ’n jaar lange reis deur die wêreld, en die kinders het tuisskoling gekry so ver hulle gaan. Hul gehoorsaamheid en goeie maniere was opvallend. Hulle het nooit baklei nie. Is Moses dalk reg?

GEBED: Hemelvader, U het kosbare kinders aan ons toevertrou. Help ons om hulle van kleins af op u pad te begelei.

Lees vanaand in Deuteronomium 11:22-32 wat die gevolg sal wees as ons reg kies.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх