Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 32

WOENSDAG 25 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 14:22-29

Оглавление

DANKOFFERS

Jy moet elke jaar ’n tiende van die opbrengs van jou gesaaides, van wat op jou land groei, opsy sit … (14:22).

GESELSVRAAG: Hoe wys ons ons dankbaarheid aan die Here?

“As ons lidmate net ’n tiende van hul inkomste aan die Here wou wy, sou ons ongelooflik baie vir die koninkryk van God kon doen. Daar sal geen behoeftiges meer wees nie. Ons sou sendelinge na al die onbereikte volksgroepe kon uitstuur. Ons gemeentes en kerklike bedienings sou nie meer sukkel om kop bo water te hou nie,” noem ’n predikant tydens ’n predikantekonferensie.

In Moses se tyd het die gelowiges twee tiendes van hul inkomste aan die Here gewy. Hul dankoffers was wat hulle meer as die twee tiendes gegee het. Die eerste tiende het na die Leviete gegaan omdat hulle nie vir hulleself kon sorg nie (vgl. Num 18:24). In vandag se gedeelte lees ons van die tweede tiende. Dit was bedoel om voor die Here fees te vier (vgl. v. 26) en om te sorg vir die vreemdelinge, weduwees en wese en almal wat behoeftig was (vgl. v. 29).

Deesdae wil mense nie meer van tiendes hoor nie, hoewel Jesus duidelik sê ons mag dit nie nalaat nie (vgl. Matt 23:23). Geen wonder dat ons sukkel om met tien tiendes deur te kom nie. God wil nie soos die hond net die oorskiet hê nie. Hy wil eerste in ons lewe kom. Dan kan ons Hom vertrou om met die nege tiendes deur te kom. Hoeveel van jou inkomste gaan aan die Here se werk?

GEBED: Vader, dankie vir u groot genade wat vir ons sorg. Help ons om u eiendom reg te bestuur sodat u koninkryk kan kom.

Lees vanaand in Deuteronomium 15:1-11 hoe armoede bestry is deur elke sewe jaar alle skuld af te skryf.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх