Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 34

VRYDAG 27 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 16:13-20

Оглавление

DIE OESFEES

Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing (16:14).

GESELSVRAAG: Watter feeste word in jul omgewing gehou?

“Ons het opgelet dat julle ook jul voorvadergeeste vereer,” verduidelik ’n Xhosa aan my. “As julle geloftefees hou, doen julle dit in die buitelug. Dan hou julle byeenkomste waar julle die lof van jul voorvaders besing. Julle braai vleis buite, al het julle kombuise in jul huise, sodat die voorvadergeeste dit kan ruik en geniet. Hoe kan julle dan vir ons sê ons doen verkeerd as ons dieselfde doen?” Ons besef nie aldag hoe mense uit ’n ander kultuur ons verstaan nie.

Die Israeliete het elke jaar verskeie feeste gehou. Almal was godsdienstige feeste. Met die Huttefees het hulle met takke skuilings gemaak en daar geslaap, al het hulle huise gehad. Dit moes hulle daaraan herinner dat daar ’n tyd was dat hulle sonder gereelde oeste in die woestyn moes oorleef. Dit was dus meer as net ’n oesfees. Daar was baie om voor dankbaar te wees. Dit was baie soos die Amerikaners se Thanksgiving vandag.

Ons vergeet dat ons ook godsdienstige feeste het wat ons met dankbaarheid moet vier: Kersfees, Paasfees en Pinksterfees. Dit is dus jammer dat ons op dié feesdae meestal die pad vat en ver van ons eie gemeente gaan vakansie hou. Ons verloor so baie.

GEBED: Here, baie dankie dat U soveel vreugde aan ons wil gee. Help ons om elke fees op die regte manier saam met U te vier.

Lees vanaand in Deuteronomium 16:21-17:1 hoe die Israeliete enigiets wat na afgodsdiens kon lyk, moes vermy.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх