Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 30

MAANDAG 23 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 12:20-32

Оглавление

DIEN ANDER(S)

Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop hulle hulle gode dien nie, want wat hierdie nasies doen, is afskuwelik vir die Here … (12:31).

GESELSVRAAG: Watter sondes word in die naam van godsdiens gedoen?

“Dit is verskriklik dat hierdie massamoorde, verkragtings, verwoesting en marteling in die naam van godsdiens gedoen word,” sê ons vir mekaar toe ons die jongste wêreldnuus bespreek. In baie lande is burgeroorloë reeds jare aan die gang. Jare lank word daar geen salarisse verdien, skoolgehou of mediese dienste gelewer nie. Geen kos word meer geproduseer nie. Wat hou die toekoms in? Sal dit ook na ons land versprei?

Dit is niks nuuts nie. Die heidense volke in Moses se tyd het verskriklike dinge in die naam van godsdiens aangevang. Ouers het selfs hul kinders lewend verbrand om die guns van afgode te koop. Daarom word die volk Israel verbied om selfs navraag te doen oor hoe daardie mense aanbid het. Dit kan jou in die versoeking bring om ook soos hulle te maak (vgl. v. 30-31).

Dit is aanloklik om saam met die stroom te gaan. Baie lewens word verwoes omdat veral jong mense die romantiese deel van godsdienstige selfdood raaksien en nie verder dink nie. Ons moet mooi luister na wat die Here in vandag se Skrifdeel vir ons wil sê. God wil jou ’n seën vir die nasies maak, nie ’n verskrikking nie.

GEBED: Here, vandag bid ons vir die miljoene mense wat ly as gevolg van godsdiensoorloë. Red hulle uit genade.

Lees vanaand in Deuteronomium 13:1-10 hoe selfs wonderwerke en geliefdes jou nie mag verlei om ander gode te dien nie.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх