Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 26

DONDERDAG 19 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 10:10-22

Оглавление

GOD VERWAG GEHOORSAAMHEID

En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel (10:12).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons die Here beter leer ken?

“Omdat ek die ma is, dis hoekom,” staan op een van ’n Amerikaanse vriendin se T-hempies gedruk. Ons almal onthou hoe ’n kleuter ’n oneindige bron van “hoekoms” kan wees. “Sommer is nie ’n rede nie,” het ons een kleindogter haar ouma probeer reghelp. Ons wil so graag weet hoekom ons iets moet doen.

Moses gee ses redes waarom ons God moet gehoorsaam. In die gedeelte wat ons vandag gelees het, kry ons die eerste een: Ons moet Hom gehoorsaam omdat Hy uniek is en ons liefhet, al verdien ons dit nie. Hy verwag dat ons sy liefde met liefde moet beantwoord. Ons moet Hom liefhê en ons moet ons naaste liefhê. Dink maar aan wat God vir jou gedoen het, dan sal jy Hom liefhê. Let op wat Moses hier van God vertel.

Lees weer vandag se teksvers. Is jy al op hierdie vlak? Indien nie, wat moet verander? Let ook op wat die sigbare tekens van die ware liefde vir God is (vgl. v. 17-19). God is met elkeen van ons besig. Ons kan dus verwag dat ons vandag, of in die nabye toekoms, getoets sal word om te sien of ons gehoor het wat Hy sê. As jy die toets dop, is dit met ’n doel. Laat God jou verander.

GEBED: Sonder u genade kan ek niks doen nie, Here. Verander my om ál meer soos U te wees.

Lees vanaand Deuteronomium 11:1-12 en dink aan watter magtige dade van God jy al self raakgesien het. Dis die tweede rede.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх