Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 35

SATERDAG 28 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 17:2-13

Оглавление

RESPEK VIR DIE REGSPRAAK

Die hele volk sal hiervan hoor en bang word om so moedswillig op te tree (17:13).

GESELSVRAAG: Wat is jou ervaring van ons regstelsel?

“Ek is baie teleurgesteld met ons regstelsel,” vertel iemand wat met die onregverdige uitspraak van ’n landdros te doen gekry het, en wat hom op die ou end baie geld gekos het. Die ontstaan van boendoehowe wat mense terstond ter dood veroordeel en teregstel, wys dat daar op voetsoolvlak ook sterk wantroue in die huidige regstelsel is. Die persepsie bestaan dat baie polisiebeamptes eintlik misdadigers is, en die regters korrup. As dit waar is, is daar groot fout. Hoe kan ons dit regstel?

Moses leer die volk dat die regters en amptenare die volk billik moet regeer (vgl. 16:18). Hulle mag nie omkoopgeskenke aanvaar of partydig wees nie (vgl. 16:19). Hulle mag alleen laat geld wat reg is (vgl. 16:20). Ons lees nêrens dat die regters hul wetboeke moet raadpleeg nie. As die saak moeilik is, neem die regter dit na die priesters (vgl. 17:9). Hul uitspraak is finaal. As iemand die priester aan diens minag, volg die doodstraf (vgl. 17:12). Niemand mag die wet in eie hande neem nie. Die volk moet die regstelsel kan vertrou om die regte ding te doen.

Die probleem is dat die landdroste en regters ook maar feilbare mense is. Ons moet dus onthou om gereeld vir hulle te bid.

GEBED: Here, lei ons regters en landdroste om die reg te laat seëvier sodat die misdadigers bang sal wees om te oortree.

Lees vanaand in Deuteronomium 17:14-20 watter opdragte aan die koning gegee is, wat Salomo later oortree het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх