Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 37

MAANDAG 30 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 18:1-8

Оглавление

SORG VIR DIE BEDIENAARS

Die priesters kry nie ’n eie grondgebied tussen hulle volksgenote nie, Levi ontvang van wat die Here self toekom (18:2).

GESELSVRAAG: Watter bedienaars het ons ondersteuning nodig?

“Ek het eenkeer ’n Mercedes as ’n winskopie bekom. Dit het egter gemaak dat baie lidmate opgehou het om hul dankoffers te gee, want hulle wou nie dat hul gawes gebruik word om die predikant in weelde te laat leef nie. Die uiteinde was dat ek die motor moes verkoop en ’n baie nederiger karretjie moes aanskaf,” vertel ’n bruin leraar. Selfs vandag kry min van hulle hul volle salaris.

Die Here het toegesien dat die Leviete nie hul eie stamgebied sou kry nie, maar dat hulle verspreid tussen al die ander stamme moes woon sodat hulle die volk oor die Here kon leer. Hy het toe bepaal dat hulle uit die dankoffers ondersteun moes word. Waar die volk hierin laks geword het, moes die Leviete self uitspring om vir hul gesinne te sorg, tot nadeel van die Here se werk.

Vandag is daar baie gemeentes wat nie meer ’n leraar het nie omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Ander verplig hul leraar om ook ’n sekulêre beroep te beoefen omdat hulle nie genoeg kan bydra nie. Onthou, ons leraars en sendelinge het net soveel as ons nodig om hul gesinne te onderhou. Ons moet dus seker maak dat hulle nie geldelik swaarkry nie. Hulle kla nie maklik nie.

GEBED: Here, dankie dat u bedoel het dat ons ons leraars moet onderhou. Help ons om dit reg te doen.

Lees vanaand in Deuteronomium 18:9-22 hoe ’n mens kan weet of ’n profesie van God af gekom het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх