Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 31

DINSDAG 24 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 13:11-18

Оглавление

WEERSTAAN SONDE

Die stad moet vir altyd ’n puinhoop bly. Dit mag nie weer herbou word nie (13:16).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons vandag sonde bestry?

“Hoe kan ons die vloedgolf van misdaad en geweld in ons land bestry?” is die vraag waarmee die regering en die sekerheidsmaatskappye elke dag worstel. Dit is opvallend dat hierdie soort ding nie net in ons land voorkom nie, maar in feitlik elke land op aarde. Menselewens het goedkoop geword. ’n Egpaar is doodgeskiet vir R3,50 wat hulle toevallig by hulle gehad het.

Moses wou die volk ernstig waarsku om nie weer in afgodsdiens terug te val nie. Sou geweld help? Ons lees nêrens dat die voorskrifte in hierdie hoofstuk só toegepas is nie. Miskien het hulle besef dat dit nie ’n oplossing sou wees nie. Ons stryd is nie teen mense nie, maar teen die onsigbare bose magte (vgl. Ef 6:12). Mense se hart moet verander. En dít kan ons nie met geweld afdwing nie.

Die Ou Testament vertel ons hoe hopeloos die stryd is om sonde deur wette te bestry. Keer op keer het die volk teruggeval. Nou kan ’n mens goed verstaan waarom Jesus na die aarde moes kom. Ons kan ons hoegenaamd nie self red nie. Jesus het gesterf sodat die Heilige Gees in ons kan werk en ons lewe radikaal kan verander.

GEBED: Here, sonder U kan ons niks doen nie. Verander ons hart, en ook dié van die mense om ons, deur u Gees.

Lees vanaand in Deuteronomium 14:1-21 hoe die Israeliete se spyskaart moes wys dat hulle hul aan God gewy het.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх