Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 23

MAANDAG 16 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 8:10-20

Оглавление

PASOP VIR VOORSPOED

Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf (8:17).

GESELSVRAAG: Wat is die gevare van rykdom?

“Dikwels is voorspoed vir ’n mens ’n groter toets as teenspoed,” sê iemand anderdag. Solank dit sleg gaan, hou dit ons op ons knieë, maar as dit voorspoedig gaan, is ons te besig om geld te maak. Ons het nie meer tyd vir God nie. Die plesier van die wêreld en die sorge van die lewe maak dat ons afvallig word (vgl. Mark 4:19).

Moses praat steeds met die volk oor waarvoor hulle op hul hoede moet wees wanneer hulle die beloofde land bereik. Eers het hy die gevare uitgewys wanneer dit sleg gaan. Nou praat hy oor die gevare wanneer dit goed gaan. Dit kan jou einde beteken as jy nie jou voorspoed reg bestuur nie.

“Ja, ek het baie geld. Ek het baie geld omdat ek dit nie weggee nie,” sê ’n gierigaard toe hy gevra is om vir ’n goeie saak by te dra. Hy het vergeet dat alles wat hy het, bloot deur God aan hom geleen word. Hy moet dit vir God bestuur. Die koms van God se koninkryk is ook sy verantwoordelikheid. ’n Ongelowige kan dit nie verstaan nie. Maar vandag se Skrifdeel wil ons daaraan herinner dat gelowiges dinge anders sien. Alles is onder God se beheer, al verstaan ons dikwels nie waarom sekere dinge gebeur nie. Miskien sal ons hierdie week getoets word om te bewys dat ons God se boodskap verstaan.

GEBED: Here, alles wat ek het, behoort aan U. Ek wil dit hierdie week vir U bestuur. Lei my elke dag.

Lees vanaand in Deuteronomium 9:1-6 dat ons voorspoed nie oor ons gaan nie, maar uit God se genade alleen is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх