Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 33

DONDERDAG 26 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 15:12-23

Оглавление

BESTRY ARMOEDE

Maar wanneer jy hom vrylaat, moet jy hom nie met leë hande laat gaan nie (15:13).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons die armoedespiraal verbreek?

“Dit is feitlik onmoontlik om uit die armoedespiraal weg te breek,” verduidelik iemand wat ’n studie daarvan gemaak het. “Kinders uit so ’n huis ontwikkel nie genoeg nie omdat hulle nie genoeg kos en stimulasie kry nie. Min van hulle voltooi hul laerskoolopleiding. Dit is makliker om hul ouers se voorbeeld te volg en die seer en armoede in alkohol of dwelms te probeer vergeet. Hul eie kinders het dus ook maar weinig hoop op ’n beter lewe.”

Moses se oplossing was dat armes wat hulleself as slawe verkoop het om kos te kry, elke sewe jaar vrygelaat moes word (vgl. v. 12). Hulle moes dan op die been gehelp word sodat hulle hulleself kan onderhou (vgl. v. 13-14). ’n Slaaf mag nie mishandel word nie (vgl. Lev 25:43). Hy mag geld spaar om homself vry te koop (vgl. Lev 25:47-49). ’n Slaaf wat ontsnap het, moet vryheid kry (vgl. Deut 23:15-16). Só wou hulle armoede onder die volk uitroei.

Ons lees dat geen Christene ná Pinkster in Jerusalem gebrek gely het nie (vgl. Hand 2:44; 4:34-35). Die gelowiges het vir mekaar gesorg omdat hulle mekaar leer liefkry het. Die diakens moes toesien dat niemand gebrek ly nie (vgl. Hand 6:1-3). Die optrede wat ons vandag van die staat verwag, is eintlik die kerk se verantwoordelikheid.

GEBED: Here, wys my hoe ek armoede hier kan bestry.

Lees vanaand in Deuteronomium 16:1-12 hoe die Paasfees elke jaar gehou is om die Israeliete aan hul bevryding te herinner.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх