Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 20

VRYDAG 13 JANUARIE 2017 Lees eers Deuteronomium 7:1-11

Оглавление

PARASKEVIDEKATRIAFOBIE

Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees (7:6).

GESELSVRAAG: Waarvoor is jy vandag bang?

“Die vrees vir Vrydag die 13de” is die letterlike betekenis van die groot woord in vandag se opskrif. Niemand weet waar die bygeloof vandaan kom dat vandag gevaarlik kan wees nie. Dit is ’n nuwe bedenksel wat vir die eerste keer in 1869 opgeteken is.

Die gedeelte wat ons vandag saamgelees het, herinner ons egter daaraan dat daar ander dinge is waarvoor ons baie banger moet wees. Ons moet bang wees dat ongelowiges ons van die Here sal afrokkel. In Moses se tyd was die oplossing uiters drasties. Maak almal dood wat jou moontlik kan verlei om die Here te versaak. Vandag doen ons dit nie meer so nie. Ons moet juis na sulke mense uitreik met die goeie nuus van Jesus, maar ons moet altyd op ons hoede wees dat ons nie self ook verlei word nie.

Ons hoef dus nie vandag met vrees te begin nie. Hierdie dag is niks anders as enige ander dag nie, want ons behoort aan die Here. Die Here se almag verander nie op Vrydag die 13de nie. Hy gaan ook hierdie dag saam met ons in. Ons Vader gaan saam na die skool en klas en ons werkplek. Ons kan Hom vandag geniet. Hy wil vandag met vreugde kyk hoe ons gaan wys dat ons aan Hom behoort.

GEBED: Dankie dat ek vandag nooit alleen sal wees nie, Hemelvader. Help my om U elke oomblik te verheerlik.

Lees vanaand in Deuteronomium 7:12-16 watter seëninge aan ’n gehoorsame lewenswyse gekoppel is.

Uit die Beek 2017

Подняться наверх