Читать книгу Uit die Beek 2017 - Attie van Wijk - Страница 4

Оглавление

Voorwoord

Baie welkom by nog ’n jaar van saam luister na die Woord van God. Ons sal min of meer om die beurt ’n boek uit die Ou Testament en die Nuwe Testament bestudeer. As jy dié siklus die afgelope sewe jaar saam met ons gevolg het, het jy ál 66 boeke in die Bybel van voor tot agter deurgelees. Daarom is dit belangrik om ook die aand-gedeelte elke dag te lees.

Gebruik asseblief die Gebedsgids in die boek om jou te help om elke dag sinvol voorbidding te doen, sonder om in dieselfde rympie te verval.

Ds AJ van Wijk (sr.) het in 1925 begin om hierdie oordenkings te skryf. Sedert 1927 is dit die Uit de Beek genoem, na aanleiding van 1 Konings 17:4 in die Nederlandse Statebybel: “En het zal geschieden, dat gij uit de beek drinken zult …” ’n Beek is natuurlik ’n bergstroompie. Die gedagte is dat ons ons elke dag moet verfris by die vars water van die Woord vir die dag wat voorlê. Sedert 1929 is hierdie oordenkings in Afrikaans geskryf, wat Uit die Beek die oudste Bybeldagboek in Afrikaans maak. Die huidige skrywer, ’n kleinseun en naamgenoot van die eerste skrywer, sluit vanjaar tien jaar as skrywer hiervan af. As jy hom dalk wil kontak, sy e-posadres is attie.vanwijk@gmail.com.

In die Ou Testament lees ons vanjaar uit Deuteronomium, Rut, 1 en 2 Kronieke, Ester, Joël, Jona, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai en Maleagi; en in die Nuwe Testament uit Handelinge, Kolossense, 1 en 2 Timoteus, Filemon, Judas en Openbaring. Sondae lees ons, soos gewoonlik, uit die Psalms. Ons sal ontdek hoe aktueel selfs die minder bekende Bybelboeke vir ons daaglikse lewe is.

Dié dagboek is geskik vir jou persoonlike stiltetyd, en ook om tydens huisgodsdiens te gebruik. Om daarmee te help gee ons elke dag ’n geselsvraag om die gesin te betrek. Dit sal julle help om die Skrifgedeelte elke dag op julleself toe te pas.

Mag hierdie jaar vir jou ’n besonderse tyd van geestelike groei wees sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is. Bou elke dag aan jou verhouding met Hom!

Uit die Beek 2017

Подняться наверх