Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 13

Vakansiebrief

Оглавление

Voor my in ’n mispel kras

drie kraaie; my dae verdwyn

in stiltes soos kwartels in lang gras.

Vanoggend toe ek erdwurms soek,

raak ek oor ’n fossiel verstrooid

soos oor ’n bladsy uit ’n muf dagboek.

’n Ou meid lê langs haar skerm, die wange

weggesak, haar oë reën en sand

in holtes van ’n maalklip opgevang.

Die berg se donker lies, vars spore

van die likkewaan en kuttels van ’n bok

roer iets in my van lank tevore;

maar die tarentaal sit stom

op haar nes vol eiers – my hart broei

oor die stad: glas, sink, beton.

Versamelde poësie

Подняться наверх