Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 15

Оглавление

Stelsel

KLEINBOER

Vroeg Saterdag as die koekoekhaan kraai,

sing ek bo-op my karretjie gelaai

met wortels en koolkoppe; maar swyg

met bitter haat as ek saans huis toe draai.

MISOES

As ek die skrale oes van uitgedorste

goue dae sien, treur ek oor vermorste

krag en tyd, en soek vergeefs vergoeding

teen jou diepbewoë borste.

NAGGELUID

Deur my gebed, diep uit die nag se nok

hoor ek die hart van die heelal: ’n klok

wat tik en tik, afsydig tik,

en my gebed verbitter tot ’n wrok.

HAEL

Wat baat gebede, arbeid en gesaai

waar groter stelsels oor die enkeling draai?

My goedversorgde koringland word deur

die wit koeëls van ’n hemel afgemaai.

GROOT GETY

Dit is die bitterheid as my gevoel

geminag word: die groot gety wat spoel,

en haat en liefde uitklots, het behalwe

eb en vloed miskien geen ander doel.

Versamelde poësie

Подняться наверх