Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 23
Rodar en Yrsa
ОглавлениеRodar, die trotse, het met elke lied,
of diertjie wat hy vang langs bos of bult,
Yrsa sy heidenhart ru aangebied
sonder ’n mededinger ooit te duld.
Maar tog het hierdie liefde haar gekwel . . .
tot sy een aand toe Thor deur takke ruis,
as ’n bekeerde skugter hom vertel
van Christus en Sy sterwe aan ’n kruis.
Vol agterdog het hy wild opgespring:
“Ek deel my liefde nie,” en met die spies
onmagtig teen dié vyand haar gedwing
om hom óf die Gekruisigde te kies.
Toe gaan hy eensaam weer sy eie gang
en snikkend het sy snags na hom verlang.