Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 28
Wandeling
ОглавлениеEk het met jou deur koeltes van die bos
na die verlore vrede teruggekeer,
die skemering oor die natgedrupte mos,
die bessies, blomme en die wit-blou veer
wat van die snelle swalu glip en los
bly hang in trae kringe bo die meer,
waar muggies oor die helder waters tros
en visse blink-pens na die son omkeer.
Jy het my van die mense weggelei
na hierdie stil en afgeslote ryk,
waar met verwondering voor elke tree
ek sien hoe God hier kalmer vorm kry
en deur die bessies en die orgidee
en oë van die visse na my kyk.