Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 35
Echo en Narcissus
ОглавлениеVol tere liefde het haar hart gebrand
waar sy stil langs hom werk en deur die vrees
en vroue-skroomte heen ’n warm hand
aanskuif dat hy van haar bewus kan wees;
maar hy, teen die vertedering bestand,
het rustig in sy boek nog voortgelees,
langs verder heuwels, bosse en ’n strand
gedwaal, geslote in sy eie gees.
Dit was hul bitter lot dat sy van hom
afhanklik was soos weerklank in ’n kloof
is van ’n stem; dat hy deur late nagte
by lamp en boek bly sit en met sy hoof
gebuig oor eie beeld, net soos ’n blom
wegkwyn langs helder waters van gedagte.