Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 25
Hooft
ОглавлениеSy verse het met swier en groot getal
maar ook kunsmatig soos ’n parkfontein
se waters oopgeruis tot skone val
van ewewig en klank en kleur en lyn.
Die druppels het geblink soos blou kristal
waarin die lig van Griek en die Romein
se nuut-herrese son uit verre dal
’n rooi deur die versproeide woorde skyn.
Veel woorde het hy so gestort – al was
dit soms met waan, weet ek dit moes gebeur
omdat my denke ook verskole hou
onder die vorm, deursigtig soms soos glas,
onder die wind-bewoë waters deur
altyd die sku gestalte van ’n vrou.