Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 39
Nagbloei
ОглавлениеLank het ek teen die nag se donker hang
geslaap en in my slaap na jou verlang
met ’n verborge gloed nog in my lyf,
soos snags as koeltes oor die aarde dryf
in kluite skuil ná die verdwene son.
Ek het gesluimer met ’n ryk bron
van goue dae in my hart, wat uit
die ondergronde van die gees opspruit
na bo in drome, soos deur turf die blom;
gedagtes wat met leliepunt opkom,
soos sterre teen die lug. In hierdie nis
waar snags die dinge bloei wat ewig is,
het jy verskyn . . . Die Melkweg het haar lyf
met kaal skouer van die maan se skyf
oor my gehef en ligtelik gebuig
tot swart-gestorte hare van die nag ruig
oor my wange; die wimpers het getril
om sterre met ’n vreugde hoog en stil,
’n wedersydse wete dat verby
die grense wat die kleiner geeste skei,
verby die klaging en die ou verdriete
van die aarde, soos winde in die riete
langs vergete waters, verby die dinge
bevange in die aardse sluimeringe,
die dinge wat vermoei en wat verniel,
is hierdie hoë rus van siel in siel.