Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 40

III Mijn herte met luste ghevaen

Оглавление

Hoe kan ek, so fyn verbind aan die wye

landskap, sterrenagte en die getye,

die room wasbloeisels frangipani, die rits

van vlieënde miere en geluidlose flikker van ’n blits

agter die palms; verbind aan die lane

waar die kleibruin blare van die platane

in stil herfsmiddae stort; die strak

skoonheid van die winter, sy kaal takke

en skerfies ryp . . . tot die eerste lou

lugstrome die stad invloei, die koue

breek en die hart laat voel iets groters kom

as net die salie- en die kanferfoelieblom . . .

hoe kan ek, so fyn verbind aan haar soos mis

wat soms met strome styg of in klam holtes rus,

aan haar toenadering en afsonderlike gang,

haar bors en heup wat eers – nes in die stam

gehoor word van ’n hoë boom – ’n fluistering

van vreugdes in my wek, en dan die duiseling

van herfs wat rooi weggiet

en winter word, ’n teer verdriet

van self-inkeer, en met die more

die hartstog tot getye van die lyf herbore . . .

verbind aan die waarheid wat wissel na gelang

van die klier en bloed se donker gang,

verbind aan al dié dinge, hoe kan ek weet

dat ek suiwer U vind verby my leed

en liefde, en ontkommerd van die stof my gees

verseker van ’n vaste waarheid wees?

Versamelde poësie

Подняться наверх