Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 17
ОглавлениеKronieke
WITVLAG
Hul het die hand, die vredeshand gevra
en wapens neergelê, soveel verdra,
want elkeen dog dat hy en hy alleen
onder sy hemp ’n koue slagmes dra.
KINDERS VAN VYANDE
Waar ons tesaam die ewighede raak
kom daardie hinderende sterfbedspraak
van vadere: “My seun, ek sien in jou
manwording nader my misgunde wraak.”
BROEI
Hul het met lis my plaas van my gevat,
my adel weggeneem en in die stad
stink krotte en vuil werk aan my gegee:
fabrieke, klerewas en hardepad.
ROOIDAG
Nou is ek nog verkoper van koerante
maar eendag sal ek een woord skree na alle kante
om my ontnome erfenis te kry –
veel meer as goud en diamante.
MASSA
As enkelinge toon ons groot genade
aan die vyand, maar as massa op parade
stoot ongekende magte ons tesaam
tot wraak en gruweldade.
GEBED
Wat kan ons anders doen, o God,
want in ons is daar ook ’n stuwing tot
vrywees en ’n eergevoel? Wat anders
na die vernedering en spot?