Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 10
6 Januarie
ОглавлениеBlindelingse geloof
Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees.” Genesis 12:1–2
~
God kies vir Abram om volksplanter te word, om die eerste treë te gee op die pad wat uiteindelik op ’n kruis en ’n nuwe koninkryk sou uitloop.
Die uitdaging waarvoor Abram te staan kom, is geweldig. Vir ’n Oosterling byna ondenkbaar moeilik. God roep vir Abram om alles wat vir hom kosbaar is te verlaat en die vreemde, onbekende in te trek. Sonder waarborge. Net hy en sy neef en hulle gesinne en kleinvee. Wat moes hy prysgee? Sy land en sy mense. Die sekuriteite van ’n gemaksone. Naam en aansien. En wat gaan hy in ruil daarvoor kry? ’n Belofte van God. Woorde wat nog moet waar word. Maar tog: Gód se woorde.
Die uitdaging was om tussen die tasbare, sigbare en meetbare sekuriteite enersyds en ’n vae belofte andersyds te kies. Maar dan was daar God. Die Bybel vertel nie vir ons hoe Abram se verhouding met God was nie. Daar moes reeds ’n verhouding bestaan het, want hy het geweet dis God wat met hom praat. En die verhouding was so intiem dat hy dadelik God se opdrag gehoorsaam het.
Om God so blindelings op sy woord te neem – dít is geloof. En die gevolg? Hy word toe vir die hele wêreld tot seën. Uit sy nageslag sou die Koning van alle konings gebore word. En deur dié Messias sou God se seën, die seën van verlossing en ewige lewe, vir die wêreld beskikbaar word.
Om vir God blindelings op sy woord te neem – dít is geloof.