Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 23

19 Januarie

Оглавление

Jesaja, geroepene en gestuurde

Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.” Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” Jesaja 6:7–8

~

Ek ken nie een profeet in die Bybel wat ’n gewilde volksheld was nie. Trouens, talle profete het as martelare gesterf. Waarom dan so? Waarskynlik omdat profete God se woordvoerders was en gevolglik verplig was om namens God mense se sondes uit te wys. En geen mens hou daarvan dat sy sonde aan die groot klok gehang word nie.

Jesaja is een van die groot skrifprofete. In hoofstuk 6 lees ons van Jesaja se roeping as profeet. Want natuurlik was dit tog belangrik dat enige Jan Rap en sy maat nie daarop aanspraak sou maak dat hulle die Here se woordvoerders was nie. Dit was ’n baie besondere gebeure in Jesaja se lewe. Hy het op ’n uitsonderlike wyse in ’n visioen van God se teenwoordigheid bewus geword. Hy was diep bewus van sy eie onheiligheid in die teenwoordigheid van ’n heilige God. En in die visioen het daar hoofsaaklik drie dinge gebeur. God het geroep. Jesaja het voor die uitdaging te staan gekom om op God se roepstem te antwoord. Wat hy toe gedoen het. Tweedens het God gereinig en toegerus. Die gloeiende kool waarmee Jesaja aangeraak is, was niks minder as God se daad van sondevergifnis nie. En derdens het God gestuur. Jesaja word geroep om te gaan, om namens God ’n boodskap van oordeel en verlossing te verkondig, wat dit ook al vir hom sou kos.

Geroep om te gaan. Is dit nie maar die uitdaging waarvoor elke kind van God te staan kom nie? Hoe voer ons ons getuienisopdrag uit?

Waarheen het God jou gestuur om te getuig?

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх