Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 34

30 Januarie

Оглавление

Op pad na Damaskus

Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”

“Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.” Handelinge 9:3–5

~

Paulus het van uitdagings gehou. Hy was ’n dinamiese jongman wat sy oortuigings met geesdrif uitgeleef het, maak nie saak hoe sterk die teen­stand ook al was nie. As ywerige verteenwoordiger van die Joodse ge­loof het hy hom hart en siel beywer vir die totale uitwissing van die nuwe sekte wat in die sogenaamde Jesus geglo het. Dit was dan ook die rede waarom hy die tog na Damaskus aangepak het om die klomp Jesus-volgelinge daar gevange te neem.

En op pad na Damaskus word hy toe onverwags in sy spore gestuit. Presies wat daar gebeur het, kon hy later maar net broksgewyse probeer deurgee: ’n skerp lig, ’n stem, ’n openbaring, blindheid … Maar al wat eintlik saak maak, is dat hy helder en duidelik geweet het dat dié Jesus wat hy besig was om te vervolg aan hom verskyn het.

Ons praat vandag nog van ’n Damaskus-ervaring wanneer ’n mens op ’n radi­kale en onverwagte manier ’n ommekeer van oortuiging en gedrag ondergaan. Jesus het vir Paulus ’n nuwe roete vir sy lewe uitgewerk. In plaas van vervolger word Paulus medewerker en voorvegter. Miskien het baie van ons ’n Damaskus-ervaring nodig om uit ’n vervelige, geykte en lustelose bestaans­wyse met nuwe geesdrif en oortuiging toegewyde dissipelskap aan te durf.

’n Damaskus-ervaring ruk jou tot stilstand sodat jy ’n nuwe koers kan inslaan – God se koers vir jou lewe.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх