Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 41

5 Februarie

Оглавление

Rus

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Psalm 23:1–2a

~

Om by groen weivelde tot rus te kom, klink na ’n onvervulde droom. Die woord “rus” het vir ons met verloop van tyd ’n magiese betekenis gekry. Die rede is voor die hand liggend. Ons leef in ’n wêreld waar gejaagdheid en onrus aan die orde van die dag is. By die werk word ons met ’n byna bomenslike lading belas. En by die huis gaan dit ook nie veel rustiger nie. Die kinders se oorvol programme eis meer tyd en aandag. Van rus kom daar regtig min tereg. En dan, wanneer die langverwagte vakansie aanbreek, raak dit ook maar net weer ’n gejaag van plek tot plek. Ja, dis lekker, en darem ontspannend, maar nie regtig rustig nie.

Vir die oues van dae het die woord “rus” tog ’n ander betekenis. Glo dit as jy wil: dinge kan té rustig raak! Rus en verveeldheid is vir seker nie dieselfde ding nie. Nou hoe dan? Wat bedoel die digter?

Dit lyk vir my dat die rus wat die herder gee met lewensvervulling te make het, met ’n soort van ’n tuiskoms. Groen is die kleur van lewe. En om in die besef van lewensvervulling te mag lewe, is die ervaring van rus. Genoegdoe­ning. Lewensvervulling. Bybelse rus beteken nie ’n lustelose niksdoen nie, maar die “so ja!” van iemand wat sy doel bereik het. En dan is dit groen – die lewe het mooi geword, daar is groei en belofte en vrug dra. Ons moet oor die rus in groen weiding nie selfsugtig dink nie. Dit gaan nie oor ’n gunstige aftreeplan nie. Dit gaan oor ’n lewe wat vervulling bereik het.

Hoe groen is jou lewe? En rustig?

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх