Читать книгу Wanneer God jou vashou - Johan Smit - Страница 25

21 Januarie

Оглавление

Wanneer die leeu brul

Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie? Die Here God het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie? Amos 3:8

Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel ’n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie.” Amos 7:10

~

Om oor sosiale ongeregtigheid te preek was nog nooit vir enige prediker die gewildste onderwerp op sy preekrooster nie. Die rede is voor die hand liggend: Dit gaan oor die dinge wat menseverhou­dings raak en dinge wat meesal ook die regering van die dag aanspreek. Amos was ’n boer uit die omgewing van Tekoa, ’n dorpie in Juda, en hy profeteer teen Israel in die tyd van koning Jerobeam. Hy maak dit uit die staanspoor duidelik dat ’n mens nie durf stilbly as die Here gepraat het nie: “Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie?”

En Amos het inderdaad nie geskroom om die gruwelike sosiale misdrywe van sy tyd aan die kaak te stel nie. Die vertrapping van die armes, die uitbui­ting van arbeiders en verwaarlosing van minderbevoorregtes het hy stuk vir stuk aan die orde gestel. En daarmee die uitspattige leefstyl van die rykes ten koste van hulle ondergeskiktes aan die lig gebring. Natuurlik tot groot ontsteltenis van die regering wat die dinge toegelaat het en dikwels die voorlopers was in die wanpraktyke.

En van wie kry Amos toe die ergste teenstand? Van die kerk! Ja, die priesters in Bet-El is deur die staat onderhou en dié mense wat Amos se boodskap moes beaam, trek teen hom te velde. Amos het hom nie laat afskrik nie, maar enduit God se woord onverskrokke verkondig.

Sosiale ongeregtigheid is ’n teken dat ’n volk en kerk van God afvallig is.

Wanneer God jou vashou

Подняться наверх